Vier verdagtes is tans in aanhouding na die polisie drie persele in Pretoria-Oos deursoek het en steroïede, aanvullings en verpakkingsmateriaal ter waarde van ongeveer R3 miljoen gekonfiskeer het.
Lucinda Mutoda (38) en Lucinda Jordaan (35) het Donderdag op aanklag van oortreding van die wet op medisyne en verwante stowwe in die Hatfield-landdroshof verskyn, sê kol. Katlego Mogale, polisiewoordvoerder.
Die twee is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat. Die saak is tot 22 Oktober vanjaar uitgestel.
Nog twee verdagtes in dieselfde saak, onderskeidelik 45 en 31 jaar oud, word in aanhouding gehou na hulle hulself aan die ondersoekbeampte oorgegee het.
Dié twee verskyn Vrydag in die Hatfield-landdroshof.



