Vrou verdwyn met ses weke oue baba

Deel hierdie storie / Share this story

’n Ses weke oue baba is Dinsdag vermoedelik op Brits ontvoer. Die polisie in die Noordwes doen ’n beroep op die gemeenskap om na vore te kom met enige inligting wat kan lei tot die opsporing van die babatjie.

Maria Nkabinde, polisiewoordvoerder in die Noordwes, het gesê Suzan Kutumela (19), die ma van die baba, was saam met die baba en ’n vriend in die middestad toe hulle vir Kedibone, raakgeloop het. Kedibone woon in Oukasie. Kutumela het saam met Kedibone, wat ook ’n baba op haar rug gehad het, na ’n taxistaanplek geloop en haar vriend agtergelaat.

Kutumela het glo die Shoprite-sentrum binnegegaan om iets te koop om te eet en haar baba by Kedibone gelos. Kedibone en albei babas was skoonveld met haar terugkeer, vertel Nkabinde.

Kedibone het ’n bruin jas aangehad en een van die babatjies was met ’n pienk handdoek op haar rug vasgebind.

Enigiemand met inligting wat kan lei tot die opsporing van die baba, kontak asseblief vir sers. Jonas Mogotlane by 060 970 9200.