FITA-hofsaak: Aansoek om appèl goedgekeur

Deel hierdie storie / Share this story

Die hooggeregshof in Pretoria het die Fair Trade Independent Tobacco Association (FITA) se aansoek om appèl in die hofsaak om die sigaretverbod tydens inperking te lig, goedgekeur.

Die aansoek sal volgens Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van FITA, op 15 Julie in die hooggeregshof aangehoor word.

FITA se saak teen Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake is deur die Pretoria-hooggeregshof van die rol geskrap, waarna FITA om appèl aansoek gedoen het.

Intussen het daar gister nog ‘n groep rokers in Pretoria teen die sigaretverbod betoog. Lees meer hier.

Die organisasie het in ’n stryd met die regering gewikkel geraak ná die koop en verkoop van sigarette tydens die inperking as onwettig verklaar is. Die organisasie het onder andere aangevoer dat die verkoop van sigarette noodsaaklik is, omdat dit verslawend is.

Regterpresident Dunstan Mlambo het in sy uitspraak gesê: ‘FITA se argument dat sigarette noodsaaklik is omdat dit verslawend is, het geen meriete nie. Die feit dat dit verslawend is, maak dit nie noodsaaklik nie.”

Dit is ook bekend gemaak dat British American Tobacco SA (BATSA) se hofsaak om die regering te dwing om die sigaretverbod te lig, eers in Augustus weer sal voorkom.