Sedert die inperking in Maart sy aanvang geneem het, het die diamantbedryf ‘n geweldige negatiewe impak op die ekonomiese front beleef. Só sê Gert van Niekerk, Voorsitter van SADPO (Suid-Afrikaanse Diamant Produsent Organisasie).
SADPO is uitsluitlik begin met die doel om die alluviale diamantbedryf meer vaartbelyn te maak. Om hierdie doel te bereik moet die organisasie nou saamwerk met ander instansies om sodoende die alluviale diamantindustrie in die breë te dien. Al die rolspelers vanaf die bemarkingsentiteite, grondeienaars op wie se grond gemyn word, tot by die produsente, is deur die pandemie negatief geraak.
Impak negatief
“Die impak is baie negatief. Die mark het drasties negatief verander en tesame met die verhoogde uitgawes om te voldoen aan die veiligheidsregulasies rakende die pandemie, is ons gedeelte van die diamantbedryf in ʼn absolute oorlewingstryd, aangesien ons lede reeds voor die pandemie al finansieel marginaal was,” sê van Niekerk.
Tans is daar ongeveer 130 diamantprodusente in die Noord-Kaap. Hierdie getal sluit klein-, medium- en grootdiamantprodusente in. Meeste van hulle is SADPO lede.
Afname in handelsprys
Volgens van Niekerk was dit moeilik om die werklike afname in die diamant prys van ru diamante te bepaal. Alhoewel daar wel ‘n afname was voor die Suid Afrikaanse inperking. Wat die saak bemoeilik, is die feit dat daar geen handel plaasgevind het tydens die eerste fase van inperking nie. “Daar het wel bemarking plaasgevind tydens vlak 4, maar dit was op kleinskaal. Die aanduiding is egter dat die prys van veral die stene groter as vier karaat, tussen 40% en 50% laer is. Ons behoort teen die einde van Julie 2020 ‘n beter idee te hê van wat die werklike impak van die pandemie op die diamant prys is ,” sê van Niekerk.
Afleggings
Sekere myne was genoodsaak om afleggings te doen, maar die getalle is nog nie bekend gemaak nie. Van die myne moes noodgedwonge hulle deure sluit, maar die moontlikheid bestaan dat hulle wel weer kan begin myn, sou die omstandighede weer terugkeer na normaal, wat die diamant prys insluit.
Aktiewe uitvoer van ru diamante in die tydperk
Nadat die Ramp Bestuurswet Regulasies gewysig is om oppervlak myne (wat alluviale diamant myne insluit) te laat werk, was daar verwarring of die verhandeling en die uitvoer van ru-stene toelaatbaar was. SADPO en sy regsverteenwoordigers was oortuig daarvan dat dit wel mag plaasvind het, maar het die tersaaklike staatsorgane (onder andere die South African Diamonds & Precious Metals Regulator – SADPMR) ‘n ander siening gehad.
“Na verskeie regsopinies, konsultasies met die SADPMR, asook ‘n privaat maatskappy wat ʼn geslaagde dringende aansoek by die Gautengse Hooggeregshof gebring het, mag ons lede nou wettiglik diamante uitvoer na buitelandse maatskappye om sodoende die wydste moontlike blootstelling aan ons produksie te bied en sodoende verkry ons lede die beste moontlike prys, wat hulle dan weer in staat stel om werksverliese te bekamp. Die proses is natuurlik onderworpe aan verskeie regulatoriese voorwaardes, wat insluit dat produksie eers aan die Staats Diamant Handelaar aangebied moet word,” meen van Niekerk.
Lig aan die einde van die tonnel?
Van die produsente het tydens Vlak 4 van die inperking begin produseer teen ‘n kapasiteit van 50% en daarna tot en met 100%, met in ag genome dat alle voorsorg getref is om die bekamping van COVID-19 onder werknemers te verseker. Daar is egter produsente wat slegs op sorg en instandhouding voortgaan terwyl die ander of totaal gestaak het, of wag vir die marktoestande om te verbeter.



