Skoonheidsterapeut neem glo haar lewe tydens inperking

Deel hierdie storie / Share this story

“Sy was ‘n skoonheidsterapeut sonder enige inkomste, sy kon nie die belaglike pryse vir sigarette betaal nie en nóg minder die mediese kostes om hulp vir die onttrekking te kry, bekostig,” praat Pat Sunkel oor haar seun se vriendin wat tydens die inperkingsregulasies glo selfdood gepleeg het.

Suid-Afrika is een van die lande met die strengste inperkingsregulasies ter wêreld. Besighede soos haar- en skoonheidsalonne se deure was vir meer as 80 dae toe weens dié regulasies. Dié besigheidseienaars het geen inkomste gehad nie en gemeenskapsorganisasies is regoor die land gestig in ‘n poging om teen die streng riglyne op te staan. FITA en BATSA, tabakorganisasies, het die regering hof toe gesleep oor die verbod op sigarette en die DA het ‘n saak oor die heropening van haar- en skoonheidsalonne teen die regering aanhangig gemaak.

Sedertdien het president Cyril Ramaphosa aangekondig die skoonheidsbedryf mag heropen word en die staatskoerant het gisteraand die streng riglyne waaraan met die heropening voldoen moet word.

FiND iT het self met die seun wie se vriendin glo selfdood gepleeg het, gepraat. Hy wou nie ‘n persoonlike onderhoud toestaan nie.