KIMBERLEY – Liah-Né Mathewsen (51) is vanoggend omstreeks 06:30 voor haar werk in Greenstraat beroof.
Sy het, soos elke oggend, buite in die son voor Lordie’s Furniture and Repairs gaan sit, toe drie mans haar nader. “Hulle het eers gevra of ek nie vir hulle ‘n sigaret het nie. Toe ek sê nee, het hulle my vir geld gevra. Hulle het al hoe nader aan my gestaan en voor ek my kon kry, het een van hulle my handsak gegryp,” vertel sy.
Sy klink moedeloos as sy noem wat alles in haar handsak was. Haar selfoon en beursie met haar geld, bankkaart en kliniekkaart is nou in die hande van die vermeende diewe.
Sy sê hulle het die polisie ongeveer 06:30 van die voorval in kennis gestel, maar moes wag tot 10:30 voor die polisiebeamptes op die toneel verskyn het.

“Dis die derde keer wat so iets met my gebeur. Gelukkig het ek nie seergekry nie.”
Mathewsen sê sy weier om bang te wees. “Wat gaan ek dan doen? Heeldag in my huis opgesluit bly? Dis ook hoekom ek nie terugbaklei het nie. Ek sal eerder my besittings as my lewe verloor.”
Die saak is by die polisie aangemeld en die video van die insident, wat deur die snoepwinkel langs Mathewsen se werk se kameras geneem is, is aan die polisie oorhandig.




