Schuster vra om verskoning as sy rolprente ‘rasse-onsensitief’ is

Deel hierdie storie / Share this story

Showmax, die stromingsdiens, is tans besig om ten minste ses van die grapjas Leon Schuster se rolprente te hersien vir moontlike ‘rasse-onsensitiwiteit’. Schuster is al vir die afgelope vier dekades vir sy vermomming en grappe bekend.

Richard Boorman, Showmax se kommunikasiehoof, sê die stromingsdiens het verlede week al ses van dié rolprente as voorsorgmaatreël verwyder, berig Netwerk24.

Die #BlackLivesMatter-veldtog wat regoor die wêreld vlamgevat het, is die oorsaak vir ander stromingsdienste wat ook hulle inhoud hersien vir wit akteurs se rassistiese vertolkings van swart karakters.

Leon Schuster is glo geskok om te hoor sy rolprente word van dié stromingsdiens verwyder. Hy sê hy het begrip vir die #BlackLivesMatter-veldtog, maar voel sy rolprente doen niemand leed aan nie, berig Netwerk24.

Schuster het aan Netwerk24 gesê: “As ek geweet het hierdie ding het mense kwaad gemaak, het ek nie daarmee aangehou nie. As ek mense te na gekom het, vra ek om verskoning.”