Die Demokratiewe Alliansie (DA) is bekommerd oor die toename in plaasaanvalle in Onderstepoort. Dit volg na altesaam sewe plaasaanvalle in minder as 24 uur in dié gebied plaasgevind het.
Die plaasaanvalle het almal tussen 19:45 op 16 Junie en die volgende oggend om 4:00 in die Haakdoornboom-gebied plaasgevind. Inwoners het tydens die aanvalle ernstig seergekry en ’n 18-jarige slagoffer is in sy nek geskiet.
John Moodey, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid en Gauteng, sê voorvalle van gewapende roof, poging tot huisroof en poging tot moord is by die Pretoria-Noord-polisiestasie aangemeld.
“Die voorvalle is slegs ’n paar van talle wat daarop dui dat boere in gevaar is. Maar tog doen die ANC-geleide regering niks om hulle veiligheid te verseker nie,” sê Moodey.
Die DA het ’n ernstige beroep op die LUR van gemeenskapsveiligheid gedoen om ondersoek na die plaasaanvalle te prioritiseer en die polisie met die nodige hulpbronne toe te rus sodat hulle boerderygemeenskappe beter kan beskerm.
Volgens Oorgrens Veiligheid is twee persone op plot 117 om 19:45 kopbeserings toegedien en beroof.
Om 23:00 is die hek by plot 74 geknip in ’n poging om in te kom.
Om 23:30 is daar skote afgevuur tydens ’n poging om by plot 76 in te breek.
Om 01:30 in die Visvanger/Hebron-area is daar by ’n huis op plot 142 ingebreek.
Om 01:30 is ’n hek geknip en ‘n venster gebreek in ’n poging tot huisbraak op plot 201.
Tusssen 01:00 en 01:30 is daar op plot 68 op Soutpan ‘n seun (18) tydens ’n huisbraak in sy nek geskiet.
Om 04:00 is daar by ’n huis op plot 189 op Hebron ingebreek.



