Dagsê Jimmi,
Ek het die dwarsklappe nie sien kom nie; die uitklophou nog minder.
Onlangs, by El Alamein gekom, langs die Middellandse See, in Egipte, oorweldig die emosie my onverwags. Dis die plek van ‘n reuse-veldslag in 1942, in die middel van die Tweede Wêreldoorlog, wat op die eerste groot oorwinning vir die Geallieerde Magte uitgeloop het. Soos Winston Churchilll later tereg opgemerk het: “Dit was nie die begin van die einde nie; maar dit was die einde van die begin.”
Ek en my vrou staan by die monument/begraafplaas waar sowat 4 200 Duitse soldate in massa-grafte begrawe lê. Adolf Hitler se soldate. Emosie oorweldig my daar, onverwags, amper soos wanneer die Bulle wat teen die Stormers score. Hartseer. Onverstaanbaar. Amper onverskoonbaar. Emosioneel oor gestorwe Nazi’s? Wie? Ek?
Ek snap dit nie tóé nie, Jimmi!
‘n Rukkie later staan ek by ‘n ander begraafplaas, so ‘n paar kilometers verder, waar derduisende Britse en ander soldate wat in dieselfde veldslag gesneuwel het, hul laaste rusplek gevind het.
By hierdie begraafplaas was ek gevul met ander emosies. Sy aan sy het hierdie helde help keer dat Duitsland tot by die Suez-kanaal kon vorder, vanwaar hulle beheer sou kon uitoefen oor die verskeping van olie en oor skeepsverkeer. Ek het die gestorwenes (letterlik) gesalueer.
Twee begraafplase; uiteenlopende emosies. Verwondering en dankbaarheid, dié keer. Hierdie soldate het immers gesterf vir ‘n goeie doel. En met ‘n goeie gevolg.
En toe tref die tweede dwarsklap my, want skielik kon ek my emosie by die Duitse begraafplaas ontrafel – die jong Duitsers, wat skaars hul kinderskoene ontgroei het, het verniet gesterf. Hulle het die veldslag verloor, én die oorlog. En hul lewe. Hierdie mense het name, pa’s en ma’s, familielede, vriende, ideale, doelwitte, drome gehad. So anders as die Britse (en ander) soldate, wat ook gesterf het – maar wie se opoffering uiteindelik nie verniet was nie.
Tog tragies as iemand verniet sterf, vir ‘n ideaal wat nooit verwesenlik kan of sal word nie.
Toe tref ‘n derde dwarsklap my. Ek sien, tussen die duisende grafte by die tweede begraafplaas, ‘n honderd Suid-Afrikaners lê. Landgenote met Afrikaanse vanne soos Venter, en Engelse vanne soos Aitken – en ja, ook ‘n Jantjies. En ‘n Banda. ‘n Bruin en ‘n swart Suid-Afrikaner, saam met die wit gesneuweldes. Almal onder dieselfde kenteken van die destydse Unie van Suid-Afrika.
Wit, swart en bruin Suid-Afrikaners, sáám in die loopgrawe. Sáám in grafte. Maar geskei in hul eie land. Die jaar was 1942, onthou – ‘n skrale ses jaar voordat die tekens wat toe al te lees was hier in ons land, in formele strukture omskep sou word wat wit, swart en bruin van mekaar sou skei.
Bittere ironie.
Op pad terug na die taxi, daar by Al Alamein, stop ek skielik in my spore, hierdie keer met ‘n uitklophou platgeslaan. Wat ek hier gesien het, is geskiedenis. Maar dit is geskiedenis wat homself herhaal, oor en oor…
En ek dink toe ook aan so baie ander Suid-Afrikanes, wat sedertdien ook verniet gesterf het. Sommige het op stukkies seep in polisie-aanhouding gegly en hul nek gebreek (glo jy dit?); ander is in plaashuise vermoor. Kinders is vermorsel nadat hulle verkrag is. Bende-lede op die Kaapse Vlakte slag mekaar soos diere. En die soldate in die oorlog daar bo, destyds, in Namibië? Het hulle ook verniet gesterf?
Wat dink jy, Jimmi?
En dit gebeur nie net hier nie – dit gebeur die wêreld oor. Van toeka se tyd af tot nou toe. Korea, Kambodja, Viëtnam, Rwanda/Burundi, Serwië, Sirië, Irak, Jemen. Te veel om op te noem.
Sharpeville. Vlakplaas. Boipatong. En Soweto, wat vandeesweek 44 jaar gelede in ‘n bloedbad verander het.
Maar miskien het almal tóg nie verniet gesterf nie…
Gelukkig is dié stuk bitter geskiedenis verby.
Dit is mos verby, Jimmi? Is dit nie?
Wederom,
Johan Retief (oftewel Oom Boet)
Jy is welkom om saam te stem of te verskil. Skryf na [email protected] as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy te sê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.
Reaksie op verlede week se rubriek: En toe score Malema agter die pale
Sweet One, Durbanville, skryf: Klink na ‘n nagmerrie wat Oompie gery het, soos in ‘n donker tonnel. Sien Oompie dalk lig sien anderkant die tonnel? Waar is die drie skippies wat aangekom het in die Kaap nou? Ons kan nie die rol van geskiedenis terugdraai nie want die skippies het in die mis verdwyn. Anders sou ek dalk wou terugklim… Hoe nou gemaak? Mag daar drome oor gelyke geleenthede op die horison verskyn! (Verkort.)
Liewe Sweet One: Ek sien inderdaad lig anderkant die tonnel. Ek is net nie altyd seker of dit die einde van die tonnel is, en of dit ‘n trein is wat aankom nie – Oom Boet



