KIMBERLEY – Leoni van der Westhuizen, wat twee weke gelede in ’n groot ongeluk ongeveer 50 km buite Kimberley seergekry het, is gister 16 Junie uit die Royal Heart Centre-hospitaal ontslaan.
Johan van der Westhuizen, Leoni se man, sê hulle drie kinders is “nuwe mensies” vandat hulle mamma weer by die huis is. “Ek moes elke aand sukkel om hulle aan die slaap kry, maar noudat hulle ma weer by die huis is, is hulle soos nuwe mense,” vertel Johan bly.
Leoni se familie en vriende het haar met welkom tuis-plakkate op die grondpad op pad huis toe ingewag. Die huis was ook vol ballonne. Phillip is ook Woensdagoggend ontslaan.
Leoni, haar drie kinders, Jonty (15), Lihan (13) en Milynn (7) en Phillip (15), ’n vriend van die kinders, was almal in die bakkie met ’n sleepwaentjie agteraan toe ’n trekker met die sleepwaentjie gebots het. Die bakkie het gerol en Leoni en Phillip is altwee daarna in die waakeenheid van die Royal Heart Centre-hospitaal opgeneem.
FiND iT het voorheen berig Leoni se arm is tydens die ongeluk vergruis en Phillip se been is sleg gebreek.








