Gesin en vriend ernstig beseer in trekker-ongeluk

NOORD-KAAP – Vyf mense van Prieska is Maandag ernstig beseer toe hulle bakkie met ‘n sleepwa teen ‘n aankomende trekker gebots het.

Leoni van der Westhuizen, saam met haar drie kinders, Jonty (15), Lihan (13) en Milynn (7), en ‘n vriend van die kinders, Phillip Hall (15), was almal in die bakkie.

Madeleine Roux, ‘n familievriend, het aan FiND iT bevestig Leoni en Phillip is in die waakeenheid van die Royal Heart Hospital in Kimberley opgeneem.

Die ongeluk het ongeveer 50 km buite Kimberley op die Douglas-pad plaasgevind. ’n Trekker het glo die agterkant van die gesin se waentjie, wat hulle gesleep het, getref en veroorsaak dat die bakkie rol.

Arm vergruis

Roux sê Leoni is gister vir die wonde aan haar kop geopereer. “Dit het eintlik baie goed gegaan. Sodra die dokter besluit sy is sterk genoeg, sal sy teruggaan teater toe sodat hulle aan haar neus, skouer en arm sal werk.” Leoni se arm is tydens die ongeluk vergruis, sê Roux.

“Phillip se been is erg gebreek, maar hy is ook in hierdie stadium stabiel in die waakeenheid.”

Rit terug plaas toe

John van der Westhuizen, Leoni se man, het die gesin se drie kinders gisteraand terug plaas toe geneem. “Die rit huis toe was vir hulle baie moeilik. Die kinders was verskriklik bang,” vertel Roux.

“John en die kinders mag in hierdie stadium, weens die inperkingsreëls, nie vir Leoni in die hospitaal besoek nie. Hy en die kinders kom weer môre deur en dan sal die kinders weer deur ’n dokter gesien word om seker te maak hulle is almal okei.”

Die van der Westhuizen’s se bakkie nadat dit in die ongeluk was.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *