“Die polisie is daar om te help”

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – “Die polisie is daar om ons te help. En dís die diens wat ons van hulle ontvang,” sê Edward Morgan (58) ná hy sy buurman na die polisiestasie geneem het om ‘n permit te kry sodat hy na sy ma se begrafnis in Bloemfontein kan gaan.

Morgan vertel hoe hy sy buurman gisteroggend 16 Junie na die polisiestasie in Phakamile Mabijastraat geneem het om ’n permit te kry om na Bloemfontein te kan reis. “Toe ek vier ure later gaan kyk of hy vorder, het hy op presies dieselfde plek in die ry gestaan.”

Morgan sê hy het by die klagtekantoor ingestap net om te sien dat daar nie een polisiebeampte was nie. “Nugter alleen weet waar al die beamptes was, maar nie een van hulle was besig om hulle werk te doen nie, dit kan ek jou verseker.”

Morgan sê hy het toe vir die stasiebevelvoerder se telefoonnommer gevra, waarna hy gedreig is. “Hulle het vir my gesê hulle sal my arresteer. Wie is ek om sulke goed te vra?”

“Toe ek besluit om eerder na die polisiestasie in Galeshewe te gaan, is ons byna onmiddellik gehelp. Daar is vir ons gesê om ’n afskrif van die doodsertifikaat en sy ID te bring, en ek het dit gedoen.”

Morgan voel dis onaanvaarbaar dat polisiebeamptes, wat veronderstel is om die gemeenskap te help en te ondersteun, so optree.

FiND iT het navraag by die polisie gedoen. Brig. Mohale Ramatsheba, polisiewoordvoerder, sê die betrokke persone moet die stasiebevelvoerder kontak.