VRYSTAAT – ’n Beweerde onwettige besending van vuurwapenonderdele wat uit Amerika na SA ingevoer is, is Woensdag in Bloemfontein onderskep.
A/O Lynda Steyn, polisiewoordvoerder, sê die Valke se geweldmisdaad-eenheid het inligting gebruik wat ’n persoon met betrekking tot die besending aan hulle oorhandig het.
’n Voorlopige ondersoek het gedui daarop dat die pakkie verkeerdelik as werkswinkelonderdele verklaar is. Daar is nog inligting ingesamel en op grond daarvan is ’n deursoekingslasbrief verkry. Die pakkie is so opgespoor.
’n Multidissiplinêre span, wat uit die tegniese reaksiespan en die plaaslike kriminele rekord-sentrum bestaan, is aangestel om die aflewering van die pakkie by Inneslaan, Waverly, in Bloemfontein te monitor.
Drie verdagtes is ondervra en verklarings is verkry.
Ander elektroniese toerusting is ook gekonfiskeer. Geen arrestasies is tot dusver gemaak nie en die ondersoek duur voort.



