Daar is geen bewyse dat die rookverbod in die land Suid-Afrikaners laat ophou rook het nie. Boonop is dit wreed om ’n roker teen sy wil te laat ophou rook. So het die Fair Trade Independent Tobacco Association (FITA) gister in die hof geargumenteer.
Die saak wat teen die regering gemaak is om die verbod op die handel in sigarette te lig, is gister in die hooggeregshof aangehoor.
Adv. Arnold Subel het namens FITA dié organisasie se redes waarom die sigaretverbod behoort gelig te word, aangevoer. Subel het gesê Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se verwagting dat rokers as gevolg van die sigaretverbod sal ophou rook, is onrealisties.
Subel sê: “In haar wêreld is dit dalk ’n antwoord om mense so ver te kry om op te hou rook, maar dit is wensdenkery. Dis heeltemal vergesog om in die regte wêreld voor te stel dat jy deur die verbod mense sal kan laat ophou rook.”
Die organisasie het as deel van die hofaansoek aangevoer die regering beledig die intelligensie van baie Suid-Afrikaners deur te dink dat hulle Covid-19 sal laat aansteek deur die deel van sigarette.
Regter Mlambo het uitspraak in die saak voorbehou en belowe om dit so gou as moontlik per e-pos aan die partye te stuur.



