‘n Vrou, wat positief getoets het vir Covid-19, het haarself na Facebook gewend ná sy twee verskillende toetsuitslae by verskillende laboratoriums gekry het.
Michelle de Jager vertel hoe sy haar seun vir ‘n noodoperasie by ‘n hospitaal in Sandton moes neem. Hulle het glo vir vyf ure gewag vir uitslae op hulle Covid-19-toetse.
“Sy uitslae het negatief teruggekom en hy moes sonder sy ma by die operasiesaal ingaan,” skryf sy. “Ek het toe nog ‘n verdere 15 minute vir die uitslae gewag en het ‘n SMS gekry wat sê ek het positief getoets. Die hospitaalhoof het om my kom skoonmaak en my gevra waar ek oral was. Mense het om my begin scatter.”
Sy vertel hoe sy vir drie dae in selfisolasie was. Haar dokter het haar toe aangeraai om weer vir die virus te laat toets, aangesien sy geen simptome van die virus getoon het nie.
“Ek het weer vir die toets gegaan en toe toets ek negatief! Is ons land so incompetent om so ‘n belangrike ding verkeerd te kry? Dit maak my woedend. So ja, ons statistieke ís verkeerd. Ek is nou een van die statistieke wat Covid-19 gehad het en nou genees is daarvan,” skryf sy.



