KIMBERLEY. – Die tempo waarteen Kimberley agteruitgaan is skandelik. Só sê Danie Claasen, ’n paneelklopper wat sedert 1999 sy onderneming in die industriële gebied bestuur.
Kenilworth-duikweg ’n gemors
“Vir die afgelope drie jaar sukkel ek al dat hulle die probleem rakende die duikweg in Kenilworth suksesvol oplos. Almal wat van die pad gebruik maak moet nou ’n ompad ry, wat ook nie veel beter is nie.”
Grafsteen opgerig en verwoes
‘n Grafsteen, kompleet met ‘n inskripsie wat die duikweg vaarwel roep, is verlede week daar opgerig. Dié grafsteen is die naweek deur vandale afgebreek en omgegooi.
Pogings van Sol “onsuksesvol”
Claasen sê wie ook al verantwoordelik vir die grafsteen was, was uiters kreatief en die oprig daarvan was redelik gepas. “Vorige pogings van Sol Plaatje was telkemale onsuksesvol en soms het tydelike herstelwerk tot ’n maand en ’n half geduur.”
Belastingbetalers staan in
Claasen beweer die munisipaliteit het eenvoudig nie die kapasiteit of die vermoë om ’n diens te lewer waarvoor belastingbetalers moet instaan nie. “Oral in Kimberley is pype gebars en strate wat lek. Dit word eenvoudig net nie herstel nie.”
Claasen is ook van mening dat die persone wat verantwoordelik was vir die afbreek van die grafsteen polities georiënteerd is en dus die onbevoegdheid van Sol Plaatje ontbloot. Hy is nie verbaas oor die barbaarse optrede nie.
Die woordvoerder van Sol Plaatje was nie beskikbaar vir kommentaar nie vanweë die Covid-19 epidemie. Lees Muishond Malan se ode aan die duikweg hier.



