Hoërskool Addies se hoofleiers vertel hoe hulle voel oor Maandag

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Hoërskool Adamantia is een van die skole wat slaggereed is vir die heropening op 8 Junie. Tanya Jordaan, onderwyseres by Adamantia, sê die onderwysers is almal baie opgewonde om die leerlinge weer by die skool te hê.

Tiaan Erasmus, Johané van Aswegen, Ghünter Brits en Kayla Oosthuizen, die skool se hoofleiers, het vertel hoe hulle voel daaroor om weer terug te keer skool toe.

“Wat gaan met ons gebeur? Hoe gaan ons die jaar klaarmaak? Dit was vrae wat in ons almal se koppe rondgemaal het. Hoe bly was ek nie om te hoor ons kan weer Maandag terugkeer skool toe nie! Om my vriende weer te sien en sosiaal te verkeer so ver moontlik. Ek kan nie wag om die jaar klaar te maak en te matrikuleer nie. Ek is baie bly om te sien dat die onderwysers en leerders baie opgewonde is om terug te gaan skool toe. Dis ‘n fees om ‘n Addie te wees, maak nie saak van die omstandighede nie,” sê Tiaan Erasmus, hoofseun by Addies.

“Ek is kinderlik opgewonde om Maandag weer terug te gaan skool toe en my matriekjaar te voltooi. Al is dit onder omstandighede van sosiale distansiëring en die skerp reuk van handontsmettingsmiddels.
Ek sien uit na die lesse wat ons weer met ons onderwysers gaan hê en net om so bietjie van die virus te vergeet. Ek sien uit na die saamwerksessies om alles steeds op standaard te hou en dit soos ‘n gewone skooljaar te laat voel. Ek sien uit om weer in die Addie-nes te wees,” sê Johané van Aswegen, hoofmeisie by Addies.

“Ek wil baie graag klaarmaak met skool om vir ‘n dieetkundige te gaan studeer. Ek het skool gemis, want dit hou my altyd besig. Die vroeg opstaan is nie lekker nie, maar skool maak my dag altyd baie beter en om die vriendelikste en behulpsaamste onderwysers elke dag te kan sien, dra by tot die feit dat ek wil terugkeer skool toe. Ek glo dat as ek die jaar, in hierdie moeilike omstandighede my matriekjaar kan voltooi, ek sonder twyfel sukses sal kan bereik,” sê Ghünter Brits, onderhoofseun.

“Die lockdown het ons versmoor met onsekerheid oor die toekoms. Ek is ongelooflik dankbaar dat die skool weer gaan heropen en dat ons die geleentheid sal ontvang om ons laaste jaar op skool te voltooi. Ek wil graag volgende jaar by die Universiteit van die Vrystaat studeer en daarom is dit noodsaaklik dat die oorblywende skooldae ten volle benut word. Ek vertrou dat elke matriekleerder sy of haar bes sal lewer, elke oomblik van vreugde sal verower en bo moeilike omstandighede sal uitstyg,” sê Kayla Oosthuizen, onderhoofdogter by Addies.