Kommer oor hantering van epidemie deur Noord-Kaapse departement van gesondheid

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, word gevra om dringend in te gryp met die uitoefening van voorsorgmaatreëls vir die Covid-19 krisis hier.

Andrew Louw, leier van die DA in die Noord-Kaap, sê hy is vandag ingelig dat twee werknemers by die Betty Gaetsewe-kliniek in Galeshewe positief vir Covid-19 getoets het.

Louw sê die DA is bekommerd oor hoe die voorsorgmaatreëls en protokols deur die Noord-Kaapse departement van gesondheid toegepas word. “Daarom doen ons ‘n beroep op premier Saul om in te gryp.”

Werknemers by die kliniek – wat onder andere ‘n kraamafdeling het – het vandag opgehou werk omdat die twee werknemers positief getoets het, sê Louw.

“Daar word beweer die werknemers het aanhou werk totdat hulle hulle toetsuitslae ontvang het. Die vermoede dat die werknemers positief is, is van die ander werknemers af weggehou. Die ander werknemers het nou onwetend hulle gesondheid op die spel geplaas deur in ‘n potensiële Covid-19 hotspot te werk.”

Louw sê hy loof die ingryping van die vakbond wat dadelik opgetree het om sy lede by te staan. Hy wil nie dié vakbond in die media noem nie. “Dit is in teenstelling met die optrede van die bestuur van die provinsiale gesondheidsdepartement, wie glo geweier het om na die kliniek toe te kom. Hulle het die werknemers in die steek gelaat.”

Louw sê dit is nie die eerste keer dat so iets in die provinsie gebeur nie. Onlangs het dieselfde by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal in Kimberley gebeur. Lees meer oor dié voorval hier.

“Dis onaanvaarbaar! Wie weet hoeveel mense het nou al met die mense wat positief getoets het, in aanraking gekom. Dis onverantwoordelike optrede,” sê Louw.

“Die departement vergeet waarskynlik dat ons ‘n epidemie beveg en probeer om mense se lewens te red. Ons kan slegs wonder hoekom fasiliteite nie by die regulasies hou nie. Hoekom word werknemers nie in kwarantyn geplaas nie? Die feit is die gesondheidsfasiliteite het te min werkers, maar dit moet nog meer aansporing wees om werkers veilig en gesond te hou.”

FiND iT was by die kliniek vandag, maar is deur die sekuriteitsbeampte weggewys.

Lebogang Mahaja, woordvoerder vir die departement van gesondheid in die Noord-Kaap, het aan FiND iT gesê hy sal teen 16:00 terug antwoord, maar het nie weer sy foon of Whatsapp beantwoord nie. Hy het dus nie bevestig of twee van die werknemers van dié kliniek wel positief getoets het óf kon bevestig of die kliniek voorlopig toe is nie.