Paniek by die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Paniek is vanoggend hier gesaai nadat ‘n inskrywing op ‘n plaaslike Facebookblad beweer iemand by die Kimberley-hospitaal het positief vir Covid-19 getoets.

Lebogang Majaha, woordvoerder vir die departement van gesondheid, het egter aan FiND iT gesê hy kan dit nie bevestig nie. Hy sal slegs kan reageer op navrae nadat die minister van gesondheid die nuwe gevalle in die Noord-Kaap aangekondig het.

Godfrey Davids, takbestuurder van Nehawu in die Noord-Kaap, sê dit is slegs een persoon – ‘n dokter – wat betrokke is. Volgens Davids het die dokter die oggend sy resultate gekry. Hy het deurlopend nadat hy getoets is en gewag het vir sy uitslae, aanhou werk. Hy het huis toe gegaan nadat hy sy uitslae ontvang het. Die personeel is eers die middag in kennis gestel, aldus Davids.

Dié beweringe kom nadat ‘n inwoner op die Sol Plaatje Community Forum ‘n inskrywing geplaas het, wat wys hoe personeellede buite die hospitaal staan.

Davids self is tans by die hospitaal in samesprekings met die bestuursraad van die hospitaal, asook ander vakbonde.