KIMBERLEY. – “Gebruik jou onderklere as ‘n masker.”
Volgens ontstoke werkers van menslike hulpbronne in die Robert Sobukwe Mangaliso-hospitaal het ‘n beampte aan dié inrigting dít aan hulle gesê toe hulle gevra het om met sodanige beskermende materiaal toegerus te word.
Godfrey Davids, takbestuurder van Nehawu in die Noord-Kaap, sê dié vakbond gaan die saak by die Menseregte-kommissie aanhangig maak. “Ons glo dat die menseregte en waardigheid van ons lede deur dié beampte aangetas is (deur voor te stel dat hulle hul onderklere kan gebruik om hulself mee te beskerm). Ons veroordeel hierdie optrede ten sterkste.”
‘n Nehawu-lid het aan FiND iT bevestig sy het die beampte om ‘n masker gevra, wat geantwoord het dat sy haar onderklere daarvoor kan gebruik. Sy het versoek dat haar naam weerhou word uit vrees vir viktimisering.
FiND iT het egter ‘n opname van haar waarin sy sê: “Hoe kan ons ons werk sonder ‘n masker doen? Een van die werkers is by die hek (buite die hospitaal) voorgekeer omdat sy nie ‘n masker gehad het nie. Ons het voorheen al hieroor gekla en het ons uiteindelik tot die {persoon} gewend. Was dit te veel gevra? Hoe pas my panty by hierdie saak in? Is daar dan geen maskers beskikbaar nie? Hoe lank moet ons nog wag om maskers te kry?”
Die betrokke beampte, wat in ‘n bestuurspos is, kon nie vir kommentaar bereik word nie. FiND iT het daarom besluit om sowel die naam as die posisie van daardie persoon te weerhou totdat kommentaar verkry is.
FiND iT het Lebogang Majaha, ministeriële woordvoerder van gesondheid, gevra om kommentaar op die bewerings te lewer. Hy het nader besonderhede versoek vir die doeleindes van ‘n interne ondersoek.



