Alhoewel hierdie week jaarliks herdenk word om groter bewusmaking van kinderregte onder landsburgers te skep, vind daar steeds te veel geweld teenoor kinders plaas.
Hierdie is volgens Tammy Breedt, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Maatskaplike ontwikkeling.
“Die hoeveelheid aangemelde klagte van geweld teenoor vroue en kinders het tydens die grendelstaat verdubbel, met sowat 120 000 slagoffers wat die regering se geslagsgeweldnoodlyn in die eerste drie weke van die inperkingsperiode geskakel het.” sê Breedt.
Kinders uitgelewer aan geweld
Die jongste bewys hiervan is die sinlose moord op die sesjarige Alexia Nyamadzawo dié week. Kort voor die aanvang van Nasionale Kinderbeskermingsweek is twee negejarige dogters ook weens geweld in KwaZulu-Natal oorlede.
Kinders is in hierdie tyd uitgelewer aan geweldpleging sonder enige opsie van ontvlugting en beskerming by skole en ander instansies, wat onder normale omstandighede as ondersteuningsnetwerke dien.

Moet ten alle koste beskerm word
Vandag se kinders is môre se leiers en moet dus ten alle koste beskerm word. Dit is elke landsburger se plig om ons kinders te beskerm en namens slagoffers te praat wanneer hul nie kan nie.
Die VF Plus spreek sy medelye uit teenoor die familie en vriende van alle slagoffers van geweld teen vroue en kinders en doen ‘n beroep op die publiek om enige sulke voorvalle by die polisie aan te meld.
Persverklaring




