Dagsê Jimmi,
Noudat Amerika aan die brand is, kon ek nie help om oor ons eie situasie hier te lande te wonder nie.
Nee, moenie jou ‘kommer nie – politieke en rasse-sake is nie vandag in my visier nie. Jou oompie is vandag oor iets anders bekommerd. Ook oor geweld, ja, maar van dié aard wat nie so grafies ons televisie-stelle haal nie.
Ek hoor huismoles het toegeneem sedert ons ingegrendel is. Naar, maar waar. Geweld teen vroue en kinders het in hierdie tyd vererger, my vriend. En jou oompie het nogal gedink dit kón nie erger word nie.
So rig ek nou maar hierdie briefie aan jou, want onse President het nie gereageer toe ek oor dieselfde saak aan hom geskryf het nie. Hy het van 9 September 2019 tyd gehad om oor die saak te imbizo. Of te lekgotla. Maar hy sprak geen sprook – ook nie noudat die situasie vererger het nie.
Wie weet, straks kry ek ‘n woord of twee van jou af terug.
Jy vra wie is ék nou om te verwag dat die Eerste Burger aan mý aandag sou gee? Wel, my vriend, hy het daarna gesoek. Nommer Een het mos destyds Suid-Afrikaanse mans uitgedaag om tot aksie oor te gaan oor die stortvloed van aanvalle op vroue en kinders wat ons land so teister. Ons, wat mans is, moes almal verantwoordelikheid neem vir dié stand van sake, het hy aangevoer. Reg.
Maar hóé kon ek pa staan vir iets wat ek nie gedoen het nie? Ek wis mos hy het bedoel dat alle Suid-Afrikaanse mans kollektiewe verantwoordelikheid vir hierdie tragedie moes neem, of jy as individu nou skuldig is of nie – baie soos wit mense veronderstel was om ná die val van apartheid te doen.
Ek speel toe ping-pong met ‘n paar gedagtes in my kop. Aangevuur deur die oortuiging dat aksie straks belangriker as woorde is, kom ek by ‘n amper verspotte idee uit: Ek sou ‘n T-hemp met die woorde Ek respekteer vroue & kinders op die voorkant, en Wat van jou? op die agterkant daarvan laat druk en dit dra. Ek wou mense uitdaag om oor hul eie waardes, houdings en gedrag te besin.
Of wat sê jy, my vriend? Jou oompie had ‘n simpel idee? Watter snars sou dit aan die situasie verander?
Sedert ek egter my verstand gekry het (ek hoor jou hardop wonder wanneer dít dan gebeur het…), het ek bly glo dat dit beter is om deel van ‘n oplossing as van ‘n probleem (lees: niksdoen aan dié aaklighede) te wees.
Natuurlik sou dit nie die probleem oplos nie – maar dit sou wel mans landwyd die geleentheid gegee het om hul stem in die openbaar te verhef. Dan doen ons mos darem íéts!
Toe wonder ek: Wat as Nommer Een die Parlement (lees: “die mense”) ‘n projek laat befonds om ‘n totaal van totaal van 46 664 sulke T-hemde per provinsie te laat druk en om dit in elke dorp en stad in ons land uit te deel? Só kon bykans ‘n half-miljoen mense met die boodskap identifiseer en dit, jare lank, na die res van die bevolking uitdra! Miljoene mense wat dit sien!
Ek bedoel, respek vir mense is immers is ‘n kernwaarde in enige gesonde gemeenskap – en die aanhoudende prysgawe van dié waarde lê tog aan die wortel van hierdie probleem. Nie waar nie?
“Geagte meneer die President,” skryf ek toe voort in al my onskuld en naïwiteit, “so ‘n belegging kan ‘n volhoubare, positiewe invloed op die land hê – en u sal gesien word as die een met die visie om dit te laat gebeur.”
Jy sê dit sal die regering te veel geld kos? Snert, my vriend! ‘n Paar politici en hul invloedryke vriende piepie dit sommer ná ‘n aand se gefuif uit… Daar is juis ‘n sjebien in Saxonwold. Brian Molefe het dan self so gesê.
Ek sluit my briefie toe só af: “Ek laat hierdie saak in u bekwame hande, met die wete dat ek u uitdaging ernstig geneem het en probeer het om ‘n verskil te maak. Wat my betref, begaan ek eerder daarmee ‘n fout as dat ek stilbly en niks doen.”
En toe is dit eintlik Nommer Een wat stilbly en niks doen. En ek dag hy was ernstig met sy pleidooi. En hy handhaaf sy stilte, Jimmi, ondanks die feit dat geweld teen vroue en kinders gedurende die grendeltydperk vererger het.
Ek lieg nie vir jou nie.
Wederom,
Johan Retief (oftewel Oom Boet)
- PS: Ek weet steeds nie hóé om kollektiewe verantwoordelikheid vir hierdie sinlose en sinnelose geweld te neem nie.
Stem saam, of verskil. Skryf na [email protected] as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy te sê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.
Reaksie op verlede week se rubriek:
Dankie aan al die Jimmi’s wat gereageer het:
Kakie, HERMANUS: So in die kol soos jy kan kry! Ons agbare ministers kan gerus afklim van (hul) perde, sodat hulle op grondvlak met die werklikheid kan kontak maak. Sien uit na die volgende rubriek.
Danie Meijers, KIMBERLEY: The government is making us, honest smokers … into smugglers. Please stop this.
Bee-Bee, GAUTENG: Ek het jou rubriek van laasweek met aandag gelees. Mooi geskryf, Oom. Ek wil net graag my stompie in jou asbak gooi.
Ek is ook ‘n roker – maar my man weet dit nie eens nie. Ek suig mos maar so aan die peppermente en hou die bek geverf met lipstiek, en spuit so bietjie Chanel. Alte fraai en vroulik.
Ek hou beslis nie daardie kwitansies nie, want ek wil nie dat hierdie boerklong van my dit onder sy oog kry nie. So, ek sal maar uit die pad bly van Oom Cele en sy uniformdraers.
Dink Oom Boet daar is ‘n kans dat Minerva, die godin van wysheid, dalk net onder ons edele minister se modieuse kopdoek kan klim, soos die skone godin uit Jupiter se kop geklim het? Ons het regtig nou wysheid nodig.
Ek sal so bly wees as jy dié een vir my kan beantwoord.
Liewe Bee-Bee: Jammer, maar ek kan nie help nie. As onse kopdoek-minister nou nog nie gesnap het nie, sal sy nooit snap nie. Ek reken sy wíl dalk nie snap nie. Jy sal maar die wysheid êrens elders moet soek. – OB
Lees die vorige artikel hier: Oom Boet oor hoe rook-kwitansies regstelsel beduiwel



