KIMBERLEY – Wanneer die skole in Suid-Afrika weer heropen, sal Laerskool Eureka in Kimberley se leerlinge tussen 07:00 en 07:20 by die skool aanmeld. Manie Verreyne, skoolhoof by dié laerskool, sê ouers sal slegs toegelaat word om hul kinders reg voor die hek af te laai en dan weer te ry.
Ouers behou die volste reg om hul kinders by die huis te hou wanneer die skole weer heropen, sê Verreyne. Ouers kan hul kinders by die departement van onderwys vir tuisonderrig registreer, maar meer inligting hieroor sal later volg.
Dié laerskool open vir graad 7’s op 8 Junie, vir grade RR, R, 1-3 en 6 op 6 Julie en vir grade 4-5 op 3 Augustus.
Leerlinge mag tot en met verdere kennisgewing klere van hul keuse skool toe dra, maar die dra van lapmaskers is verpligtend. Leerlinge sal twee ekstra maskers by die skool ontvang, maar moet steeds met een skool toe gaan.
“Geen leerling sal sonder ‘n masker by die hekke toegelaat word nie,” sê hy.
Leerlinge se temperatuur sal by die hekke geneem word en slegs leerlinge met ‘n temperatuur onder 38°C sal ingelaat word. Daar sal ook ‘n vraelys aan leerlinge voorsien word en elke ouer sal saam met sy kind deur die vraelys moet gaan om te verseker die kind toon geen simptome nie.
Leerlinge sal ook tydens die skooldag deeglik ingelig word van hoe om veilig tydens skoolure op te tree. Leerlinge wat die regulasies oortree, se ouers sal ingelig word en hulle sal huis toe gestuur word.



