SA Rugby verwelkom aankondiging oor moontlike terugkeer na die veld

Deel hierdie storie / Share this story

SA Rugby het Saterdag die aankondiging dat professionele sportspanne moontlik gedurende vlak drie van inperking weer sal kan oefen, verwelkom.

Nathi Mthethwa, die minister van sport, kuns en kultuur, het die aankondiging Saterdag tydens ‘n inligtingsessie gemaak toe hy oor die departement se strategie om die maatreëls te verslap, gepraat het.

Mthethwa het gesê sportspanne het 14 dae om voorstelle by die departement in te dien oor hoe hulle die spelers en afrigters se veiligheid kan verseker.

Hy het ook aangekondig dat nie-kontak-sportsoorte weer mag begin oefen indien hulle aan die gesondheidsvereistes voldoen.

“Dis baie goeie nuus. Dit stel ons in staat om voor te berei om uiteindelik weer te begin speel,” sê Jurie Roux, die uitvoerende hoof van SA Rugby.

‘Ons het vyf weke gelede ‘n uitgebreide, gefaseerde protokol by die departement ingedien en ons is gereed om onmiddellik met die mediese evaluering van spelers te begin.

“Maar dit is ‘n geleentheid vir ons spelers om hul oefenprogramme gedurende die inperking te verbeter deur aan hul fiksheid aandag te gee,” sê hy.

SA Rugby het op 18 Maart alle rugby-aktiwiteite stopgesit.