Geskiet en met byl gekap

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – ’n Seun is in sy been geskiet en ’n drywer is met ’n byl op sy kop gekap toe hulle dié familie tydens ’n gewapende rooftog wou beskerm.

Die gesin is glo Donderdag 28 Mei vir die vierde keer by hul huis in Moghul Park beroof.

Rani Govindasamy, die eienaar van ’n vrugte- en groentewinkel in die stad, het Donderdag soos normaal huis toe gekeer. “My volwasse seun het buite die huis met ’n vriend staan en gesels toe daar drie gewapende mans op ons toeslaan.” Die familie se drywer het in sy truspieël gesien hoe drie rowers op die huis toesak terwyl hulle waarskuwingskote in die lug opvuur. Die drywer het na Gonvindasamy gehardloop om haar te beskerm.

In been geskiet

Govindasamy se seun en die drywer het een van die verdagtes vasgekeer toe hulle oor die muur wou spring om weg te kom. “Die man het die ander teruggeroep en ’n struweling het uitgebreek waartydens my seun in sy been geskiet is en die drywer op sy kop met ’n byl gekap is.”

Pleit vir hul lewens

Govindasamy se seun en die drywer moes om hul lewens pleit. Die drywer, wat anoniem wil bly, het aan Find iT gesê hy het nog nooit sulke aggressie gesien nie. “Die mense was aggressief en kwaad. Een het vir die ander een gesê ‘finish him off’ toe hy my met die byl gekap het. Ons moes vir ons lewens pleit.”

Drie keer vantevore beroof

Dié familie is reeds drie keer vantevore by hul huis beroof, waarvan die twee laaste kere in Augustus 2019 en weer in Februarie hierdie jaar plaasgevind het, vertel Govindasamy. Govindasamy sê sy verstaan nie hoekom hulle aanhou om geteiken te word nie, aangesien hulle geen kontant meer op die perseel hou nie.

“Die rowers het die eerste twee kere weggekom met groot bedrae kontant, maar sedertdien het ons opgehou om kontant op die perseel te hou. Die vorige keer het die rowers net weggekom met my handsak. Ons bly die sekuriteit opskerp en het al kameras ook aangebring, maar steeds word ons geteiken. Ons het nie geld nie. Ons is ’n klein besigheid.”

Govindasamy sê sy en haar gesin vrees nou vir hul lewens en slaap nie saans nie. “Die rowers het gesê hulle kom terug.”

Govindasamy se seun het vandag ’n groot operasie ondergaan om die oorskot van die koeël uit sy been te verwyder. Hy is egter uit die teater en stabiel.

Die drywer het steke aan sy kop en krammetjies aan die agterkant van sy kop gekry en is weer op die been.

FiND iT het navraag oor die voorvalle by die polisie gedoen en wag vir terugvoering.

Lees meer oor die vorige roof hier: https://find-it.co.za/2019/08/08/gewapende-roof-by-huis-in-moghul-park/