George Floyd pleit om genade, maar sterf oomblike later

Deel hierdie storie / Share this story

George Floyd (46) is Maandag in ‘n straat in Minneapolis in Minnesota voor ‘n verskrikte groep omstanders dood.

‘n Video het soos ‘n veldbrand versprei van ‘n wit polisiebeampte wat Floyd, ‘n swart man, op die grond vasdruk ná hy glo met vervalsde geld probeer het om by ‘n plaaslike winkel te koop.

In die video, wat deur sekuriteitskameras en verbygangers opgeneem is, pen die polisiebeampte vir Floyd met sy knieg teen sy keel op die grond vas, terwyl ‘n tweede en derde polisiebeampte staan en toekyk. Floyd lê op sy maag en hyg na sy asem en vra die polisiebeampte om “asseblief” sy knieg van sy keel af te haal, want hy “kry regtig nie asem nie.”

Bystanders smeek byna die polisiebeampte om Floyd in die vangwa te laai eerder as om hom verder te martel.

Oomblikke later word Floyd se lewelose liggaam op ‘n ambulansbed gelaai. Hy is in die hospitaal dood verklaar.

News24 berig die beamptes wat by die insident betrokke was, is afgedank en die saak word tans deur die FBI ondersoek.

In 2014 het ‘n soortgelyke insident plaasgevind. Eric Garner, ook ‘n swart man, het 11 keer gesmeek en gesê hy kan nie asem kry nie. Dit terwyl ‘n wit polisiebeampte hom in ‘n wurggreep vasgehou het tot hy ook oorlede is.

Herman Eloff, News24 se leefstyl- en vermaaklikheidsredakteur, sê as jy iemand is wat nie “verstaan waarom ras by die storie ingetrek moet word nie,” is jy “deel van die probleem.”