KAAPSTAD. – Daar word wêreldwyd berig oor diere se eienaardige gedrag sedert die uitbreking van die Koronavirus en die daaropvolgende inperkings. Foto’s van pikkewyne wat strate oorneem, of ’n Bengaalse tier wat dit in ’n woonbuurt waag waar hy voorheen nooit sou kom nie, is wyd in omloop.
Gedrag in die diereryk
Daar is ook foto’s van dolfyne wat in die silwerskoon, onbesoedelde kanale van Venesië baljaar. Laasgenoemde is blykbaar drognuus, synde ’n gedokterde foto. Maar dit is ongetwyfeld so dat die wêreldwye inperking aanleiding gegee het tot gedrag in die diereryk wat mense nie elke dag waarneem nie.
Opdringerige kransduif
’n Pratende duif sal egter vir die meeste mense net ’n bietjie te dik vir ’n daalder wees. So het Johan Mocke van Brackenfell ook gedink toe hy vroeër die week vir sy oggendwandeling gegaan het. Johan vertel op Facebook dat ’n medewandelaar wat van voor af in aantog was, skielik moes gaan stilstaan het omdat ’n kransduif baie opdringerig daarop aangedring het om deel van die wandelaar se persoonlike ruimte te word, soos een wat ten alle koste ’n geselsie wil aanknoop.
Nuuskierigheid in diereryk
“Die duif het behoorlik voor die wandelaar gepronk en gedraai en gekoer, voordat hy weer weggevlieg het,” vertel Johan aan Nuuspod. Die duif se optrede het al die aanwesiges verras en daar word nou gegis oor wat aanleiding tot sulke gedrag kon gee. Johan meen die diereryk is, net soos mense, dronkgeslaan oor die staat van inperking, vandaar die soort nuuskierigheid. Intussen is die mensewêreld stadig maar seker besig om te ontwaak soos wat inperkingsmaatreëls verslap word, en ’n mens wonder waarheen die diereryk dan sal uitwyk, of sal ons in ‘n ander normaal weer ruimte vir diere maak?



