Kerkleiers vra lidmate om versigtig te wees

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA. – Verskeie kerkleiers het na vore getree om te vra dat hul lidmate eerder op ander maniere in hul gemeenskappe betrokke bly as om kerkdienste by te woon. Dit volg na die maatreëls vir kerkbyeenkomste verslap is om voorsiening te maak vir sekere byeenkomste onder streng maatreëls, soos dat slegs 50 mense per byeenkoms toegelaat sal word. Dié stap van president Cyril Ramaphosa is  in sommige kerkkringe verwelkom, maar daar is ander wat hul lidmate vra om nie aan sulke dienste deel te neem nie.

CRC hou geen openbare dienste

Pastoor At Boshoff van die Christian Revival Church het in ’n twiet laat weet dat CRC geen openbare dienste sal hou nie. Boshoff sê hulle kerk het dit van die begin af duidelik gestel dat hulle die virus met geloof en wysheid sal beveg. Al wat hulle van die regering wou hê is die erkenning dat geloofsleiers ’n noodsaaklike diens verrig en daarom in die voorste linie van die stryd teen die virus ontplooi moet word. Boshoff het in ’n regstreekse video op Facebook gesê die verslapping van die maatreëls beteken dat CRC nou onder meer kan help om kos wettig aan arm mense te versprei en honderde sopkombuise regoor die land weer in werking te stel. As kerk sal hulle nog nie tydens eredienste bymekaarkom nie. Lidmate van CRC mag egter selbyeenkomste by huise hou, volgens Boshoff se verklaring.

Draers van hoop, nie virus

Intussen het Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, gevra dat die NG Kerk die draers van hoop, en nie die draers van die virus moet wees nie. Hy het in ’n videogesprek met die redakteur van Kerkbode, Le Roux Schoeman, erkenning gegee aan lidmate se behoefte om as geloofsgemeenskap in ’n kerkgebou byeen te kom, en saam te sing en bid. Maar hy het ook klem gelê op die verantwoordelikheid van kerkleiers en lidmate om binne die nuwe bepalings (wat wel klein eredienste tydens Vlak 3 sal toelaat) verantwoordelik op te tree en te help verhoed dat die virus versprei.