MODIMOLLE. – Die Modimolle-Mookgophong munisipaliteit in Limpopo sê hy voer die laaste drie weke ’n verbete stryd teen onwettige informele strukture in alle gebiede van die munisipaliteit. Plakkers beset glo munisipale grond voor die voet. Mookgophong word die ergste hierdeur geraak, waar staatseiendom ook in plakkers se visier is. Die grond van Transnet, SANRAL, en die departement van openbare werke, is ook al beset.
Moet hofbevel kry
Die burgemeester van die munisipaliteit, Marlene van Staden, sê die munisipaliteit was reeds twee maal in die hof en moet weer in die hooggeregshof in Polokwane verskyn om ’n hofbevel te kry wat grondbesetters moet verhoed om munisipale grond onwettig te beset. Sy sê die onwettige besetting van leë munisipale grond veroorsaak ’n stadsbeplanningsramp vir die munisipaliteit en vererger die lot van die mense wat daar probeer bly.
Skep veiligheidsrisiko’s
“Die besettings skep boonop talle veiligheidsrisiko’s soos onveilige puttoilette, onwettige storting en waterbesoedeling,” sê Van Staden. Die risiko’s stel nie net die grondbesetters in gevaar nie, maar ook die ander inwoners van omliggende gebiede. In Mookgophong het besetters glo met munisipale boorgate gepeuter. Die gevolg was dat die gemeenskap vir dae sonder water gesit het. Van Staden vra inwoners om saam te werk sodat hulle die veiligheid van die groter gemeenskap ook kan beskerm.
Skadelike impak
Intussen help wyksraadslede en -komitees die munisipaliteit om die gebiede te identifiseer waar grond onwettig beset word, sodat hulle die skadelike impak van hul optrede aan die besetters kan verduidelik.
“Nie een van die besetters het by die munisipaliteit aansoek gedoen vir grond nie. Nou kos dit die munisipaliteit ’n klomp geld om dié aksies in die hof te beveg. Dit is geld wat die munisipaliteit eerder vir dienslewering kon aangewend het,” sê Van Staden. Sy vra dat almal moet saamwerk om te verseker dat dorpe in die munisipaliteit volgens die regte prosedures kan ontwikkel en die verskaffing van dienste, asook die toekenning van huiseienaarskap, makliker en vinniger sal geskied.



