Die nasionale koronavirus-raad het vandag met Suid-Afrikaners gepraat oor die reëls en regulasies wat gedurende vlak drie van inperking in werking sal tree.
President Cyril Ramaphosa het Sondag in sy toespraak aangekondig die land sal op 1 Junie vlak drie van inperking binnegaan.
Ebrahim Patel, die minister van handel en nywerheid, sê gaar kosse sal weer in supermarkte verkoop mag word en kitskosrestaurante mag nou die deurry-opsie aan sy kliënte beskikbaar stel.
Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het bevestig Suid-Afrikaners sal nou toegelaat word om enige tyd te gaan draf, stap of fietsry, mits dit nie in groepe is nie.
Sy sê verder hotelle sal toe bly, omdat hotelle gewoonlik diegene wat gereis het, huisves.
Gimnasiums, restaurante en kroeë sal gedurende vlak drie toe bly, maar die verkoop van alkohol sal van Maandag tot Donderdag van 09:00 tot 17:00 toegelaat word. Jy mag slegs alkohol by jou huis drink.



