Skole heropen eers 8 Junie

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Skole vir graad 12’s en graad 7’s sal nou eers op 8 Junie heropen. Só het die LUR van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, Mac Jack, vandag in ’n media-inligtingsessie gesê.

Volgens Jack sal personeel op 3 Junie 2020 terugkeer werk toe en 439 skole het reeds teen 27 Mei 2020 hul basiese higiëne-pakke ontvang. Die oorblywende items van die basiese higiëne-pakke sal tussen 28 en 30 Mei 2020 na alle skole gestuur word.


1 967 graad 12’s en 1 562 graad 7’s is afhanklik van leerdervervoer. Om die gesondheid en veiligheid van leerders te verseker sal die departement se saniteerders hul voertuie daagliks ontsmet voordat leerders vervoer word. ’n Totaal van 349 voertuie sal graad 7 en graad 12-leerders vervoer.

Die ontsmettingsproses is afgehandel en skole word skoongemaak en voorberei om oop te maak.

Jack sê poste vir skoonmakers is geskep. “Daar is ’n totaal van 645 kritiese skoonmakerposte vir aanstelling in skole geïdentifiseer. Tot op hede het ons 543 skoonmakers vir ’n tydperk van ses maande gewerf. Die aanstelling van die uitstaande 102 skoonmakers sal in die loop van hierdie week gefinaliseer word.”

Jack het voortgegaan om sê herstelwerk by skole wat tydens die Covid-19 inperking gevandaliseer is, is besig om voort te gaan en sover verloop alles goed.