Dudu is ‘n misdadige direkteur – Outa

Deel hierdie storie / Share this story

PRETORIA. – Die voormalige voorsitter van die SAL-raad, Dudu Myeni, is as misdadige direkteur verklaar, ingevolge ’n hofbevel wat deur die Organisasie teen Belastingmisbruik, Outa, aangevoer is. Outa en die SAL Vlieëniersvereniging, SAAPA, het in 2017 by die hof aansoek gedoen dat Myeni se optrede, as voorsitter van die raad, op grond van die Maatskappyewet veroordeel word.

Drie jaar geneem

Die hooggeregshof in Pretoria het gister kort na 15:00 uitspraak in die saak gelewer. Dit beteken dat Myeni voortaan nie meer op die direksie van enige maatskappy mag dien nie. Wayne Duvenage van Outa sê hoewel die saak drie jaar geneem het om uitsluitsel te kry, was dit die tyd en moeite werd, omdat dit goed is vir die gemeenskap.

Bygedra tot finansiële val

Kommentators op sosiale media sê regter Ronel Tolmay se bevinding is plofbare leesstof. Sy veroordeel Myeni se hantering van die beleërde lugredery in geen onseker terme nie, en sê SAL sou baie beter af sonder haar gewees het. Hoewel sy nie die enigste sondaar is nie, het sy beduidend bygedra tot die betreurenswaardige finansiële val van die lugredery, het Tolmay gesê.

Het spoor byster geraak

Tolmay sê verder dat Myeni se optrede as voorsitter van die raad die SAL onberekenbare skade berokken het. Sy was ’n direkteur wat die spoor byster geraak het en geen ag geslaan het op haar fidusiêre pligte teenoor SAL nie, het Tolmay gesê. Verder was sy ook nie ‘n betroubare getuie nie. Dit is duidelik dat sy willekeurig roekeloos en nalatig was.

OUTA en SAAPA het geargumenteer dat Myeni lewenslank as misdadige direkteur verklaar word, in plaas van die wetlik voorgeskrewe sewe jaar. Tolmay het hulle gelyk gegee. Volgens haar uitspraak is Myeni nie geskik om die direkteur van enige maatskappy te wees nie, nog minder van ‘n openbare maatskappy.