Pasop, die dood skuil in jou tuisbrousel

Deel hierdie storie / Share this story

SUID-AFRIKA. – Om ’n drankie tuis te brou is nie sulke onskuldige pret soos wat meeste mense dink nie. Dit kan lewensgevaarlik wees as jy nie weet wat jy doen nie. So waarsku die wynmaker Bertus van Niekerk van Somerset-Wes na die dood van nege mense in die Oos-Kaap, asook sterftes elders in die land. Die sterftes hou almal verband met die nagevolge van onverantwoordelike tuisbrou-praktyke.

Self drankie by huis brou

Suid-Afrikaners het in hulle duisende begin om self drankies by die huis te brou weens die streng verbod op alkoholverkope tydens die staat van inperking. Dit het aanvanklik by pynappelbier begin, maar gou het resepte vir tuisgemaakte vodka, jenewer en selfs kitswyn in die virtuele ruimte van sosiale media rondgevlieg. Vir sommige mense was die flouerige resultate van dié resepte nie genoeg nie, en mense het skop aan hulle brousels probeer gee deur verfverdunner, spiritus en ander chemikalieë by te voeg.

Onkunde by tuisbrouery

Van Niekerk sê die meeste sterftes word hieraan toegeskryf. Daar is egter mense wat begin kla het dat pynappelbier hulle erge maagwerkings en hoofpyne gee, iets wat tekenend is van mense se onkunde as dit by tuisbrouerye kom. Daarom waarsku hy mense om behoorlik navorsing te doen en die regte toerusting te bekom as hulle tuis drank wil vervaardig. Die alternatief is ’n erge siekte of die dood.

Gissoorte verskil

Van Niekerk sê verskillende gissoorte het verskillende uitwerkings op die soort drank wat jy wil brou. Daarom moet mense doodseker maak hulle gebruik die regte soort gis. Hulle moet ook wag dat die gis en suiker behoorlik fermenteer voordat hulle aan hul brousels begin drink. Doen hulle dit nie, is maagwerkings en ander siektes hul voorland.

Misgis met mampoer

Dit is veral by die stook van mampoer waar mense hulle lelik misgis en die gevolge kan tragies wees, sê Van Niekerk. Wanneer ’n mens mampoer stook beveel hy aan dat die regte toerusting soos ’n alkoholmeter en ’n termostaat gebruik word om seker te maak die verskillende dele van die alkohol word uitmekaar gehou. Metielalkohol kook teen ’n laer temperatuur as etielalkohol en kom eerste uit. Dit is bekend as die kop. Hierdie deel van die stooksel moet weggegooi word omdat dit jou blind kan maak of selfs jou dood kan veroorsaak. Van Niekerk sê dit sal voornemende stokers en brouers loon om soveel as moontlik te gaan nalees voor hulle dié stokperdjie aanpak.

SKAKEL NA NUUSPOD: https://anchor.fm/nuuspod/episodes/Wynmaker-Pasop–die-dood-skuil-in-jou-tuisbrousels-eekhg4/a-a2aed2r