Die ekonoom Magnus Heystek waarsku Suid-Afrikaners om ‘n noodfonds te begin bou wat vir minstens ‘n jaar lank in hulle behoeftes kan voorsien. Hy het die raad op Twitter gegee. Volgens Heystek se twiet moet Suid-Afrikaners na hulle finansiële adviseurs luister as die hulle aanraai om te spaar. Vergeet van die nuwe kar, wasmajien of luukse handsak, bou eerder julle kontantreserwes op sodat jy vir minstens ‘n jaar vir jou familie kan sorg, en moet nooit daaraan raak nie, skryf Heystek.
In ‘n volgende twiet verduidelik Heystek dan dat die rand die afgelope dekade gemiddeld 9,5% per jaar in waarde verminder het teen die Amerikaanse dollar. Heystek meen dit sal nie gou weer gebeur nie, maar hy weet van beleggers wat ‘n bankrekening in Mauritius vir hul kontantreserwes het met ‘n kaart waarmee hulle op enige plek in Suid-Afrika kan koop.
Op kritiek dat die meeste mense nie eers ‘n maand se ekstra kontant bymekaar kan maak nie, kap Heystek dan terug dat hy twee keer in sy lewe afgelê is. Die twee afleggings het hom fanaties oor spaar en beleggings gemaak. “Ek verstaan die mag van geld,” twiet Heystek dan.
Een van sy volgelinge vra dan vir Heystek wat die slegste belegging is om te maak. Heystek antwoord dan dat daar nie ‘n slegter belegging as leë grond is nie, want jy sit dan met net ‘n verband, erfbelasting en heffings, goed wat jy nie eers kan weggee nie. Moenie enige eiendom koop wat jy nie maklik weer kan verkoop en wat nie vir jou ‘n inkomste kan verseker nie, sê Heystek.
Lees nog artikels hier.



