Vyf dinge wat jy tydens swangerskap moet en nie moet nie

Deel hierdie storie / Share this story

Nou dat jy swanger is, is daar ’n paar dinge wat jy van jou leefstyl behoort te verander om die lewe vir jou en jou babatjie makliker te maak.

Die moets:

Kry ’n vitamien-aanvulling met genoeg foliensuur. Foliensuur help jou baba se ontwikkeling tydens jou swangerskap.

Voorgeboorteklasse is nie ’n moet nie, maar dit sal jou en jou man of jou kêrel help om julle voor te berei vir wanneer die babatjie gebore is.

Eet gesond. Probeer om jou eetgewoontes so aan te pas dat jy al die nodige vitamienes en minerale inkry.

Probeer om steeds aktief te bly, sonder om dit te oordoen. Om gesond te leef, is steeds belangrik. Gaan stap byvoorbeeld twee of drie keer ’n week om die blok of lees hier oor oefeninge wat jy kan doen.

Probeer om kalm en positief te bly. Studies toon dat jou emosies ’n effek op jou baba kan hê.

Die moenies:

Probeer om dadelik op te hou rook, drink en dwelms gebruik. Dié drie dinge kan die ontwikkeling van jou baba negatief beïnvloed, sou jy daarmee voortgaan.

Verminder jou kafeïeninname. Dit sluit in koffie, energiedrankies of enigiets met ’n hoë kafeïeninhoud in.

Moenie rou vis, vleis of hoender eet nie. Jy kan voedselvergiftiging of siektes van salmonella kry.

Moenie enige medikasie drink nie. Baie kan skadelik wees vir jou baba en sy ontwikkeling. Raadpleeg jou dokter as jy oor iets wonder.

Moenie sommer X-strale laat neem nie. Die X-strale kan skadelik wees vir jou baba en sy ontwikkeling.

Dis belangrik om te onthou dat jou swangerskap ’n spesiale tydperk in jou lewe is. Pas jouself op en maak die beste daarvan.