Dr. Johan Retief was vir ‘n bykans dekade lank die ombudsman van die Suid-Afrikaanse Persraad.
Retief is ook FiND iT se interne ombudsman en maak seker daar word op niemand se tone getrap nie. Hy het ‘n doktorsgraad in teologie wat hy in 1982 in dogmatiek onder wyle prof. Willie Jonker behaal het.
As ‘n swaargewig in die joernalistieke landskap van Suid-Afrika, jeuk sy vingers om te skryf en gaan hy voortaan ‘n weeklikse rubriek, Oom Boet (Om-bud – sien!), vir FiND iT skryf.
Jana Grobbelaar, redakteur van FiND iT, sê om iemand van Retief se portuur as deel van die span te hê, is ongelooflik. “Ek het Johan leer ken toe FiND iT net begin het. Hy was destyds die SA ombudsman vir die Persraad. Ons het al verskeie kere in amper in die sop beland en ek was vandat ons deel was van die Persraad, verbaas dat hy so toeganklik was. Nadat hy by die Persraad in 2019 bedank het, het hy as onafhanklike ombudsman vir FiND iT begin optree.”
FiND iT het bietjie met Retief gesels oor sy ervaring in die media die afgelope 10 jaar.
Wat was jou moeilikste saak tydens jou tyd as ombudsman van die Persraad?
“Dis moeilik om een uit te sonder, maar op ‘n menslike vlak is dit waarskynlik die een waarin ek bevind het ‘n Sondagkoerant se beriggewing oor die sogenaamde “rogue”-eenheid in SARS was vals. Een joernalis is onmiddellik daaroor afgedank; nog twee is later afgedank toe dit geblyk het dat my bevinding inderdaad korrek was. Dit was aaklig – mense het hul werk verloor.”
Wat is die doel van persvryheid?
“Die media word nie verniet die ‘Fourth Estate’ genoem nie – die media se hooftaak is om mense in gesagsposisies verantwoordbaar te hou. Hul doen en late het immers ‘n invloed op ‘n ieder en ‘n elk.
“Lord Acton het gesê: ‘Power corrupts, and absolute power corrupts absolutely.’ Sonder ‘n vrye media sal politici ‘n vrypas hê om te maak en te breek soos hulle wil.”
Hoekom is dit nodig om ‘n ombudsman te hê?
“Die SA media het ‘n Persraad, wat ‘n Perskode aanvaar het, daargestel. Die raad se hooftaak is om te verseker dat die media eties optree. ‘n Ombudsman vervul daardie rol.
“Die punt is dat onetiese optrede, hetsy onakkurate beriggewing, of die verswyging van sekere inligting, of die skets van die regte konteks, mense oneindige skade kan berokken. Ek het byvoorbeeld gesien hoe iemand sy werk verloor het, en daarna ook sy huis en sy vrou – net om jare later te bewys dat die beriggewing verkeerd was…
“Waar die media wel oortree het, moet die ombudsman verseker dat die skade herstel word – al is dit nie moontlik om die horlosie terug te draai nie.”
Wat steek jou dwars in die krop as jy artikels aanlyn lees?
“Nie net aanlyn nie, maar ook op papier – wanneer ‘n joernalis ‘n bewering as ‘n feit aanbied. Die skade wat dit mense berokken, is onberekenbaar.”
Waar kry jy jou nuus?
“Ek lees koerant en luister soggens na die nuus op RSG. Ek kyk ook graag nuus op TV. Ek verkies Al Jazeera en die BBC.”
Wat aan nuus en digitale nuus maak jou opgewonde?
“Digitale nuus maak my opgewonde omdat dit so onmiddellik is – jy kry soms nuus terwyl dit aan die gebeur is. Die wêreld het inderdaad ‘n ‘global village’ geword!”
Waarop fokus jy deesdae?
“My twee kleinkinders, al sien ek hulle heeltemal te min. Covid-19 se skuld. Vihan is nou amper 5. ‘n Wonderkind. Hannes, die mooiste baba in die geskiedenis van die heelal, is nou 7 maande.”
Waaroor kla mense die meeste by die ombudsman?
“Hulle kla veral dat die media hulle nie kans gegee het om kommentaar te lewer op ‘n berig wat hulle nadelig kan raak nie. Sulke onverantwoordelike joernalistiek lei dikwels tot onakkurate en onbillike verslaggewing.”
Lees Retief se eerste rubriek môre hier op FiND iT.




