September 24, 2021

Ritchie: Skool se laboratorium verwoes

Foto: Twitter

Die LUR van die departement van onderwys in die Noord-Kaap, Mac Jack, het vandag saam met die Onderwyser- en Werkersunie begin om die skole in die Noord-Kaap te besoek om te monitor hoe gereed die skole in dié provinsie is vir die heropening van skole.

Hulle het vandag by Hoërskool Rietvale in Ritchie begin.

“Sommige van die skole in Ritchie is gereed om vanoggend al te heropen. Die realiteit is egter dat sommige skole vandag eers skoonmakers aangestel het.”

Jack sê Hoërskool Rietvale sal slaggereed wees om die graad 12’s te verwelkom wanneer hulle op 1 Junie na die skool terugkeer.

Hy sê verder hy is teleurgesteld oor dit wat in die afgelope twee maande gedurende die inperking gebeur het.

“Die wetenskaplaboratorium by die skool is verwoes. Alle toerusting is onbruikbaar en dit sal die skool en die departement niks minder as R1 m kos om te vervang nie. Die leerlinge móét toegang hê tot ‘n laboratorium en daarom is daar geen ander opsie as om dit te vervang nie.”

Hy sê almal behoort saam te werk om die verantwoordelikheidsin by gemeenskapslede te laat posvat. Skole is immers die plek waar die jongmense vir die toekoms voorberei word, sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *