Hoeveel water drink jy; en hoeveel behoort jy te drink?

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Mens moet genoeg water drink om ontwatering te voorkom. Hoewel daar heelwat uiteenlopoende menings is hieroor, raai gesondheidsowerhede sowat twee liters per dag aan.

Ons het almal gehoor dis die ideaal. Die waarheid, egter, is dat die hoeveelheid water onder meer afhang van hoe aktief jy is en in watter klimaat jy lewe.

Selfs al is jy nie baie aktief of lewe jy nie in ‘n bedompige klimaat nie, verloor jy elke dag water deur jou asem, sweet, urine en ontlasting.

Jou liggaam bestaan uit ongeveer 60% water. Jy benodig dit vir elke liewe liggaamsfunksie. Dit verwyder onder meer gifstowwe uit jou organe, dra voedingstowwe na jou selle, smeer jou gewrigte en help jou om kos te verteer.

Sonder genoeg water gaan jy ontwater. Erge gevalle daarvan kan duiseligheid, verwarring en selfs stuipe veroorsaak.

As jy buite is op ‘n warm dag, of iets doen wat jou baie laat sweet, moet jy meer vloeistowwe inneem sodat jy nie ontwater nie. Dit geld ook as jy siek is wat jou maak opgooi, of diaree veroorsaak, of ‘n koors meebring.

As jy egter hart- of nierprobleme ondervind, is dit dalk nodig dat jy minder vloeistowwe inneem. Vra jou dokter watter hoeveelheid is reg vir jou.