Polisiestasie in Kimberley toe ná beampte positief toets

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY – Nog ’n polisiestasie in die Noord-Kaap is tydelik toegemaak ná ‘n polisiebeampte positief getoets het vir Covid-19.   

Brigadier Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, sê die Kagisho-polisiestasie in Tshwaragano is Sondag tydelik toegemaak toe een van die polisiebeamptes positief vir die virus getoets het.  

Lt.-genl. Risimati Peter Shivuri, die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, het die Kagisho-gemeenskap gerusgestel en gesê die polisie in dié area sal steeds hulle dienste lewer. Hy sê die Galeshewe-polisiestasie sal vir tyd en wyl klagtes hanteer en die gemeenskap bystaan waar nodig.

Volgens brig. Ramatseba is die Kagisho-polisiestasie gister ontsmet en die persone wat met die geïnfekteerde polisiebeampte in kontak was, is tans in isolasie en sal binnekort getoets word.

Die polisiestasie sal na verwagting 27 Mei heropen.