Lede van die publiek kan nou polisie-wreedheid gedurende die Covid-19-grendeltydperk by hul naaste polisiekantoor rapporteer, of andersins die nasionale klagte-sentrum (tolvry, by 0800 333 177) bel, of ‘n epos na [email protected] of na [email protected] stuur.
Brig. Vishnu Naidoo, polisie-woordvoerder, sê die sentrum kan van nou af bewerings van polisie-wreedheid hanteer. Dit sluit alle wangedrag soos onmenslike, vernederende en hardhandige optrede, asook marteling en selfs nalatigheid in.
Dít volg ná die uitspraak op 15 Mei vanjaar van regter Hannes Fabricius in die Noord-Gautengse (Pretoria) hooggeregshof in die saak van Collins Khosa.
Die klaer moet besonderhede soos volle name en van, identiteitsnommer, woon- en/of werksadres, telefoonnommers en ‘n epos-adres verskaf. ‘n Gedetailleerde beskrywing van wat na bewering gebeur het, insluitende in watter provinsie en area die voorval plaasgevind het, moet ook verskaf word, asook die datum, tyd en besonderhede van die polisielede.
Naidoo sê die nasionale noodtoestand het ‘n ongehoorde situasie geskep, wat die samewerking van almal verg sodat die verspreiding van die virus beperk, bestry en beheer kan word.
Van wetstoepassingsagentskappe word verwag om te verseker dat rampbestuur-maatreëls deur alle inwoners van die land nagekom word.
Besonderhede is beskikbaar by http://www.saps.gov.za/newsroom/ regulations/regulations.php, of by https://www.gov.za/coronavirus/guidelines.




