“Ek mag nie nou huise verkoop nie en ek gebruik maar die spasie om te sê: EK IS MAL LIEF VIR JOU!”
Só lui vier lamppaal-advertensieborde in die strate van Montana ná Theo Erasmus, ’n eiendomsagent van Pretoria, besluit het om sy vrou, Erika, op haar verjaardag te verras.
Erasmus het foto’s van die spesiale verrassing vir sy vrou se 43ste verjaardag op sosiale media gedeel.
Hy sê hy en sy vriend, Albert Bredenhann, het gesit en gesels oor die feit dat hulle nie nou gedurende die inperking foto’s van mense se huise kan neem nie, maar steeds vir die reklameborde om sy besigheid, Just Imagine Eiendomme, te bemark, betaal.
Bredenhann het hom gevra waarom hy nie die reklameborde gebruik om vir sy vrou te vertel hoe lief hy haar het nie.
“Ek het gedink dis ’n blink idee. Juis omdat haar verjaardag twee dae later was!”
Erasmus sê sy twee dogters, Tyla (10) en Kaylene (11), het hom die dag voor haar verjaardag gehelp om die borde op te sit.

Erika het die oggend van haar verjaardag van die boodskap op die borde gehoor toe vriende en familie haar daarvan ingelig het en sy was aangenaam verras, vertel Erasmus.
“Ek het gehoop my vrou waardeer die gebaar. Dis iets buite die norm en ek was nie seker hoe sy of selfs die publiek daarop sou reageer nie. Gelukkig was die terugvoer redelik positief!”
“Ek voel dis ’n goeie belegging in ons huwelik. Mens belê soveel tyd en geld in jou besigheid, maar vergeet soms dat jou huwelik net so belangrik is.”








