“Ek is spyt oor elke sigaret wat ek net half gerook het en doodgedruk het of by die ruit uitgegooi het. Ek is ernstig wanneer ek sê van nou af, as ek eendag weer die geld het om R10 per sigaret te betaal, rook ek daai ding tot binne-in sy filter.”
Só sê ‘n inwoner van Kimberley, moedeloos oor die sigaretverbod wat gedurende vlak drie van inperking in Suid-Afrika bly.
President Cyril Ramaphosa het aanvanklik aangekondig die koop en verkoop van tabakprodukte sal gedurende vlak vier van inperking toegelaat word. Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma het egter daarna gesê die sigaretverbod sal steeds in werking wees gedurende vlak drie.
Baie Suid-Afrikaners het gehoop om in die president se toespraak Sondag te hoor dat die sigaretverbod gelig sal word op 1 Junie, wanneer die land na vlak drie oorskakel.
Die verkoop van alkohol sal op vlak drie toegelaat word, maar steeds geen tabakprodukte mag verkoop word nie, het president Ramaphosa bekendgemaak. Hy sê daar is gesondheidsrisiko’s aan die verkoop van sigarette verbonde en daarom word dié verbod nie gelig nie.
“Ek kon die sigaretverbod op vlak vyf verstaan. Selfs nog vlak vier. Maar nou word die verkoop van alkohol gewettig, maar ek moet nou aanhou skelm wees om my sigarette in die hande te kry!”
Dié roker vertel hoe hy op die swartmark tot en met R200 vir net één pakkie sigarette betaal. “Normaalweg betaal ek daai bedrag vir ‘n karton sigarette! Dis verregaande!”
Hy vertel hoe hy snags ná donker agter een van die vulstasies naby sy huis sy pakkie sigarette moet gaan optel. “Dat ek só skuldig voel as ek iets só normaals doen. Dat ek só skelm moet wees om te doen wat ek vir die afgelope 30 jaar van my lewe doen. Dis belaglik.”
“Ek is spyt oor elke sigaret wat ek net half gerook het en doodgedruk het of by die ruit uitgegooi het. Ek is ernstig wanneer ek sê van nou af, as ek eendag weer die geld het om R10 per sigaret te betaal, rook ek daai ding tot binne-in sy filter.”
“Hoe slaap ek snags met die wete dat ek die wet verontagsaam? Is die enigste opsie wat vir my oorbly om dokter toe te gaan en pille te kry om maar eerder op te hou rook? Só kan ek nie aangaan nie.”



