SUID-AFRIKA. – Die Springbok-rugbyspan gee van hul waardevolste besittings weg ná hul onlangse Wêreldbeker-sege om geld in te samel vir diegene wat met die Covid-19-virus besmet is.
Andy Colquhoun, kummunikasie-bestuurder van SA Rugby, sê die Springbokke het saamgestaan en die #StrongerTogether for R32-12-veldtog begin. Die Bokke het die eindstryd met 32-12 teen Engeland gewen.
‘n Lotery-kaartjie van R32-12 bied jou die kans om verskeie unieke pryse uit die Springbok-kamp te wen.
‘n Unieke, nuwe prys is pas by dié inisiatief gevoeg – mense kan nou ook geleentheid kry om saam met die Springbokke na ‘n wedstryd te reis, ‘n ete met die afrigter te nuttig, of die Wêreldbeker in hul huis te ontvang.
SA Rugby het vandag onthul dat dit alreeds meer as R500 000 in die eerste ses dae van die veldtog ingesamel het.
‘n Rugbytrui kan onder meer gewen word wat Siya Kolisi in ‘n groepfase-wedstryd gedra het. Pieter-Steph du Toit se sweetpak, wedstrydbroekies en –sokkies van Lukhanyo Am, Frans Malherbe se sweetpak en rugsak, en Damian De Allende se gimnasiumklere is ook op dié lys.
SA Rugby bied boonop ‘n verpersoonlikte Wêreldbeker-trofee aan by die huis van een gelukkige wenner.
Gilbert, die amptelike verskaffer van rugbyballe wat deur SA Rugby gebruik word, insluitende dié waarmee in die Wêrelbekertoernooi van 2019 gespeel is, het ‘n beperkte hoeveelheid replikas geskenk van die bal wat in die eindwedstryd gebruik is.
Rassie Erasmus, die direkteur van rugby wat die Bokke na Wêreldbeker-glorie gelei het, skenk boonop sy gelukkige wit hemp, asook ‘n praatjie om geld in te samel by ‘n liefdadigheidsorganisasie van die wenner se keuse.
“Hierdie is ‘n uitnemende saak en ek is dankbaar om ‘n beskeie bydrae te lewer om diegene te help wat die ergste onder die pandemie deurloop,” het Erasmus gesê.
“Die verhaal van my wit hemp het in 2018 begin. Elke keer wanneer ons verloor het, het ek van klere verander – en ongelukkig het dit dikwels gebeur. In 2019, egter, moes ek dit net een keer doen – so hierdie (die een wat hy verlede jaar in Japan gedra het) is beslis my gelukkige hemp. Ek het besluit om dit te skenk aan die #StrongerTogether for R32-12-veldtog.”
Vir nader besonderhede, klik hier, of gaan direk na Computicket to buy.



