Het jy geweet dat gesonde hare ‘n teken is van ‘n gesonde liggaam? Mense se haartipes verskil en jy moet leer hoe om jou haartipe se versorg en te behandel. Sommiges verkies om elke dag hare te was, terwyl ander dit een keer ‘n week doen.
Probeer hierdie eenvoudige toets om vas te stel of jou hare gesond is of nie. Neem een van jou hare en gooi dit in ‘n glas vol water. As dit dryf, is jou hare gesond. As dit sink, is jou hare ongesond. Dis nie nodig om jou hare uit jou kop te trek nie! Dis bloot tyd om jou haartipe te leer ken en dit daarvolgens te behandel.
Hier is ‘n paar wenke wat haarstiliste bymekaargestel het.
Die temperatuur van die water waarmee jy jou hare was, is baie belangrik. Veral nou in die winter is mens geneig om die kraan lekker warm oop te draai, maar kenners raai dit af. Koue water hou die skag van elke haar toe, sodat dit blink en gesond lyk.
Die tipe sjampoe waarmee jy jou hare was, is net so belangrik. Moenie ‘n familie-grootte sjampoe koop en dit vir die hele gesin gebruik nie. Verskillende haartipes het verskillende soorte behandeling nodig.
Smeer die sjampoe bietjie vir bietjie aan jou hare en nie alles op een slag nie. Jy was immers nie klere nie! Jou hare moet met sorg behandel word.
Spoel jou hare goed af. Volgens die kenners behoort jy meer tyd daaraan te bestee om jou hare af te spoel as om dit te was. Die klein bietjie sjampoe wat agterbly as jy nie jou hare goed afspoel nie, kan jou hare dof laat lyk.
Spoel opknapper met koue water af. Die koue water seël die vog in jou hare.
Volgens kenners is dit nie goed om jou hare daagliks te was nie. Stel vas hoeveel keer jou haartipe gewas moet word. Persone met droër haartipes hoef een keer ‘n week hare te was, terwyl meer olierige hare meer gereeld gewas moet word.
Gebruik droë sjampoe vóór jy oefen. Deur dit te doen, maak jy dit makliker vir jou hare om die sweet te absorbeer wanneer jy oefen.
Deur gereeld vars kussingslope oor jou kussings te trek, verhoed jy bakterieë om aan jou hare vas te sit. Dit kan dus ‘n goeie invloed op die gesondheid van jou hare hê as jy op skoon kussings slaap.



