Die Noord-Kaap het twee nuwe Covid-19-gevalle, volgens ‘n verklaring wat die minister van gesondheid gister uitgereik het. Dit bring die totale aantal bevestigde gevalle in dié provinsie op 37 te staan.
Altesame 24 van dié pasiënte het reeds herstel, wat die provinsie met 13 aktiewe gevalle laat.
Die twee nuwe gevalle is ‘n persoon van 60 van die Phokwane plaaslike munisipaliteit en iemand van 45 van die Sol Plaatje-munisipaliteit in die Frances Baard-distrik.
Dr Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê hy kan nie die belangrikheid van die vier sleutel-maniere oorbeklemtoon waarmee mense hulself en ander mense teen die virus kan beskerm nie.
Dit behels:
· Effektiewe hand-higiëne – die gereelde was daarvan met seep en water, of die gebruik van alkohol-gebaseerde skoonmaakmiddels. Mense moet so ver moontlik nie aan hul oë, neus en mond raak nie – dit kan maklik tot die oordrag van die virus lei;
· Respiratoriese etiket – bedek jou mond en neus met jou gebuigde elmboog of met ‘n sneesdooekie wanneer jy hoes of nies, en raak dadelik van laasgenoemde ontslae;
· Fisieke afstand – vermy noue kontak (minstens een meter weg) met enige persoon. Moenie hande skud nie; groet eerder op ‘n afstand en vermy so ver moontlik sosiale geleenthede en nie-noodsaaklike reise; en
· Dra ‘n gesigsmasker – dit is ‘n vereiste in die openbaar, aangesien dit die verspreiding van die virus kan beperk. Die alleenlike gebruik van ‘n masker beskerm mense egter nie genoegsaam nie; mense moet bogenoemde voorsorgmaatreëls ook tref.
Mkhize het dit beklemtoon dat niemand op reis mag gaan tensy dit absoluut noodsaaklik is nie en dal almal so ver moontlik tuis moet bly. Wanneer jy egter wel moet reis, soos wanneer jy kos of medisyne moet koop, maak seker dat jy bogenoemde maatreeëls getrou nakom.



