Die minister van gesondheid het gister aangekondig daar is nou 35 persone in die Noord-Kaap wat positief vir die koronavirus getoets het. Die 35ste geval is ‘n 71-jarige persoon wat in die Sol Plaatje-munisipaliteitsdistrik woon.
Daar is nou 24 persone in die Noord-Kaap wat van die virus genees is, dus het die provinsie nog 11 aktiewe gevalle.
Dr. Zwelini Mkhize sê elke distrik het ‘n toegewyde reaksiespan wat sal ingryp wanneer dit nodig is gedurende skanderings-, toetsings- of bestuursprosesse.
Hy sê verder sou die inperking en al die streng maatreëls nie in Suid-Afrika in plek gestel is nie, daar nou ten minste 80 000 Suid-Afrikaners met die virus geïnfekteer sou wees. Die sterftesyfer sou moontlik agt keer hoër wees en daarom was die inperking nodig.
Terwyl Suid-Afrikaners binnekort na verskillende vlakke van inperking beweeg, behoort die basiese regulasies steeds gehoorsaam te word. Sosiale distansiëring, die dra van materiaalmaskers en higiënebeheer is steeds belangrik, sê minister Mkhize.



