NOORD-KAAP – John Henry Routenbach (25) is Woensdag in die landdroshof op Kuruman skuldig bevind en gevonnis vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, asook vir die handel in bedreigde spesies.
Luidens ‘n verklaring van die SAPD is die man reeds in Augustus 2019 deur die Valke se misdaadondersoek-eenheid in hegtenis geneem nadat inligting oor ‘n onwettige vuurwapen in ‘n huis in Kuruman bekom is.
Die polisie het destyds ‘n 9-mm handwapen en ammunisie, asook die vel van ‘n ietermagog met ‘n straatwaarde van R250 000 gekonfiskeer.
Routenbach is ses jaar tronkstraf vir die besit van ‘n onwettige vuurwapen en ammunisie, sowel as vyf jaar vir die handel in bedreigde spesies opgelê. Albei strawwe is vir vyf jaar opgeskort.



