Vyf skuldig bevind aan moord op DA-raadslid en sake-vennoot

Deel hierdie storie / Share this story

KIMBERLEY. – Vyf mans wat op die moord in 2016 op die DA-raadslid, Johannes Baaitjies (49) en sy sake-vennoot tereggestaan het, is vandeesweek in die Noord-Kaapse hooggeregshof skuldig bevind.

Richard Hasane (36), Richard Magawu (32), Matthews Legodi (52), Frank Baxane (34) en Charles Mpondomisa (42) is skuldig bevind op albei aanklagte van moord. Baxane en Mpondomisa is boonop skuldig bevind aan die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Die vyf sal na verwagting tussen 24 en 26 Junie vanjaar gevonnis word.

Baaitjies, ‘n voormalige Danielskuil-raadslid in die Kgatelopele-munisipaliteit is in Augustus 2016 dood gevind op die pad tussen Danielskuil en Postmasburg. Hy was twee keer in die kop, asook een keer in die bo-lyf geskiet. Sy sake-vennoot en vriend, Jeffrey Nose, is in dieselfde voorval in die gesig geskiet. Hy het ‘n week later in die Kimberley-hospitaal aan sy wonde beswyk.

Baaitjies is na ‘n sake-vergadering gelok en het Nose saam met hom geneem. Met hul aankoms is hulle in ‘n lokval gelei en aangeval. Benewens die drie skote, is Baaitjies ook agter ‘n voertuig aangesleep.

Nose is geskiet terwyl hy in ‘n bakkie gesit het.

Die Valke se eenheid vir ernstige misdaad het die saak ondersoek en het Magawu binne 48 ure in hegtenis geneem. Verdere ondersoeke het tot die inhegtenisneming van Paullis Mvuleni Mgcera (50), Mpondomisa, Legodi, Hasana (33) gelei.

Baxane is in September en Oktober daardie jaar in hegtenis geneem.

Mcgwera is oorlede voor die hofsaak in 2018 begin het. Die saak teen hom is dus teruggetrek.

Die beskuldigdes het verskeie pogings aangewend om op borgtog vrygelaat te word, maar dit was nooit toegestaan nie.

Die provinsiale hoof van die direktoraat vir prioriteit- misdaad-ondersoek, genl.-maj. Kholekile Galawe, het die ondersoekspan vir hul werk geprys.

“Ons loof die werk van die ondersoekspan, asook die onvermoeide ywer van die aanklaers. Ons verwelkom die uitspraak – dit stuur ‘n duidelike boodskap uit dat geen vorm van moord, ongeag politieke verbintenisse, in die Noord-Kaap geduld sal word nie. Ons is daartoe verbind om die publiek met integriteit en onpartydigheid te dien – sonder vrees, voorkeur of vooroordeel,” het hy gesê.