‘Sinnelose moorde’ skok polisiekommissaris

Deel hierdie storie / Share this story

MPUMALANGA – Die liggame van twee mans, onderskeidelik 24 en 30, is eergisterogend (12 Mei) bo-op mekaar op ‘n plaas in die Witbank-omgewing gevind.

Lt. genl. Mondli Zuma, provinsiale kommissaris, het die moorde in die sterkste moontlike taal veroordeel.

Luidens ‘n verslag het die polisie inligting in die vroeë oggendure van ‘n bekommerde familielid ontvang wat gesê het sy broer (24) het hom gebel om te sê dat hy geskiet is en dat hy in bosse op ‘n nabygeleë plaas skuil.

Die polisie het onmiddellik ‘n soekgeselskap uitgestuur – maar sonder enige sukses. Hulle het toe die hulp van die honde-eenheid ontbied, wat later op die liggaam van Emmanuel Mashengwane en dié van ‘n tweede slagoffer afgekom het. Albei het skietwonde opgedoen.

Paramedici is ingeroep, wat die twee mans op die toneel dood verklaar het.

‘n Saak van moord is geopen en die polisie het reeds met ‘n ondersoek begin.

Zuma het die moorde sterk veroordeel en het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om behulpsaam met die ondersoek te wees.

“Ek is geskok deur dié sinnelose moorde en het opdrag gegee dat die skuldiges opgespoor word. Niemand het die reg om iemand anders se lewe te neem nie. Die mense wat verantwoordelik is vir hierdie koelbloedige daad sal met die volle mag van die wet te doen kry,” het Zuma gesê.

Mense met inligting kan die polisie op 10111 of 08600 10111 bel. Hulle kan ook MYSAPSAPP aflaai en naamloos waardevolle inligting aan die polisie verskaf. Sulke inligting sal streng vertroulik gehanteer word.

Navrae:

Brigadier Leonard Hlathi
082 462 0804