Byna sewe weke na die inperking in Suid-Afrika begin het, het president Ramaphosa weer vanaand die nasie toegespreek.
Meer inligting en data oor die virus lei tot die gevolgtrekking dat, sou die inperking nie in plek gestel is nie, 80 000 Suid-Afrikaners nou moontlik met die virus geïnfekteer sou gewees het.
Volgens die president is 219 persone al weens die virus in Suid-Afrika oorlede.
Die doel van die inperking was bloot om die verspreiding van die virus te vertraag. Tot dusver, sê president Ramaphosa, is die land suksesvol in dié poging.
Daar is reeds 4 745 persone van die virus genees.
Die tyd wat die inperking die land gegee het, kon verseker dat die land goed voorberei vir die uitbraak. Persoonlike beskermingstoerusting is wyd beskikbaar, skanderings- en toetsingsprosesse is meer geredelik beskikbaar. Meer as 9 miljoen mense is al vir die virus geskandeer.
Sekere provinsies in Suid-Afrika sal aan die einde van die maand na die volgende fase, vlak drie, oorslaan. Die distrikte met die grootste aantal infeksies sal egter steeds op vlak vier bly.
President Ramaphosa sê weer as die land die inperking té vinnig verslap, sal die virus net vinniger versprei.



